Die Provinsiale Veiligheidsberaad wat op 28 en 29 Augustus 2024 deur die SAPD in Bloemfontein aangebied is, moet nie net ‘n papieroefening wees nie, vra Vrystaat Landbou (VL).
VL, tesame met alle staatsdepartemente wat ‘n belang by landbou het asook alle georganiseerde landbou organisasies, het die beraad bygewoon. Beide die LUR van Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer asook die LUR van Landbou en Omgewingsake was ook betrokke.
Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheid komitee, bevestig dat uitdagings wat deur die kern organisasies/departemente geidentifiseer is, in vyf kommissies bespreek is waar daadwerklike voorstelle en aksiestappe gegee is oor hoe dit aangespreek moet word en deur watter departemente.
Le Roux noem verder dat die volgende tekortkominge tydens die beraad geïdentifiseer is:
– die effektiewe implementering van die Nasionale Landelike Beveiligings Strategie;
– duidelik toegewysde werkstoedeling van Landelike Veiligheid-koördineerders;
– die daarstel van reserviste as ‘n magsvermeningsvuldiger en landelike veiligheids
eenhede
– tekorte by Veediefstaleenhede; misdaadprobleme by die RSA/Lesothogrens;,
– die gebrek en verandering van tersaaklike wetgewing wat ontbreek bv die Skutwet;
– Die regulering en gebrek aan beheer by meentgronde onder munisipale beheer.
Le Roux bevestig dat die SAPD en SANW reeds versoek is om kritiese tekortkominge te eskaleer na nasionale vlak, terwyl die LUR ook sekere aspekte op ministeriële vlak sal uitlig.
Le Roux het sy hoop uitgespreek dat die beraad nie net ‘n papieroefening sal wees nie, maar dat praktiese implementering en aksiestappe tot ‘n verbetering in landelike veiligheid van boerderygemeenskappe aanleiding sal gee.